Verkiesing 2026: Ken jou kandidaat



Johan van der Watt (regs op foto)
DA-kandidaat, Wyk 15, Breedevallei
Langerug | Somersetpark | Worcester-Wes Leightonpark | Wyzersdrift | Chavonnes

Beste Wyk 15-inwoners
Ek stel myself graag bekend sodat julle gemoedsrus kan hê oor wie julle belange sal verteenwoordig as ek tot nuwe wyksraadslid verkies word.
Ek is by uitstek 'n probleemoplosser en doen-mens wat al 20 jaar in die wyk woon. Omdat ek passievol is oor hoë standaarde en effektiewe diens, was ek in 2014 ’n stigterslid van die Worcester-Wes Aksie Groep en help ek sedertdien aktief om probleme rondom my op te los en ons strate veilig en inwonervriendelik te hou.
Met rdl. Johan Pieters se verhuising het ek voor ’n kruispad gekom en besluit om my werk in die gemeenskap in ’n amptelike rol voort te sit. Met hom as raadslid en boesemvriend het ek in-diepte insig gekry in wat dit verg om ’n goeie wyksraadslid te wees. Wees verseker ek weet waaraan ek my onderwerp. Ek verbind my ten volle tot die taak.
Dit sal ’n eer wees om julle te verteenwoordig en tot die beste van my vermoë vir inwoners se belange te werk!
Lees meer:
My persoonlike agtergrond
Albei my ouers was in die Pionierskool voor hulle ontmoet het. Ek is dus ’n gebore Worcesteriet wat by Worcester Voorbereiding, Primêr en Gimnasium skoolgegaan het. Ek moes as tiener reeds begin werk en het by Boland Skryfbehoeftes en die Dros begin. Later jare het ek KWIKSPAR Breedevallei bestuur en die bekroonde SPAR Q Square op die been gebring, wat ek vir ses jaar met groot sukses en trots bestuur het. Van 2022 af bedryf ek my eie besigheid wat regdeur die Wes-Kaap dienste lewer en jaar op jaar groei, want effektiwiteit, hoë standaarde en goeie diens is inherent deel van wie ek is.
Ek het my vrou ontmoet tydens haar internskap by die Worcester Standard. As joernalis en redakteur (tot 2016) het sy net so ingeburger geraak in die gemeenskap soos ek. Ons is in 2005 getroud en het ’n klein huisie in Worcester-Wes gekoop. Albei ons kinders is hier gebore en ons woon steeds baie gelukkig hier.

Die munisipale verkiesing is op 4 November.
As jy voor verkiesingsdag persoonlik met my wil gesels, kontak my enige tyd. Ek antwoord graag enige vrae wat jy mag hê.
Al my kontakbesonderhede is onderaan hierdie blad.
My ondervinding in die wyk
Ek is ’n probleemoplosser en doen-mens wat vas glo ’n mens kla nie net nie, jy maak ’n plan. Ek is ook lief vir ons dorp en weet ek het ’n verantwoordelikheid om dit vir ons kinders te help oppas. Ek deins nie terug vir komplekse probleme of ongemaklike gesprekke nie en kan effektief standpunt inneem dat werk reg moet geskied. My vorige betrokkenheid in die gemeenskap sluit in:
• Ek was in 2014 ’n stigterslid van die Worcester-Wes Aksie Groep vir inwoners en eiendomseienaars se belange.
• In 2016 het ons dit omgeskakel in ’n buurtwag vir Worcester-Wes. Ten spyte van uitdagings met brandstofkoste ens., het ons vrywillig betrokke geraak en ry ons steeds gereelde patrollies om beligting en ander veiligheidsrisiko’s te identifiseer, aan te spreek en goeie verhoudings met sekuriteitsmaatskappye en die plase te bou.
• Ek het in die 2016-2021-termyn in die Wyk 15-wykskomitee gedien. Onder rdl. Wouter Meiring het ek die BVM se strukture en operasionele werk in ons wyk in-diepte leer ken. Ek het in die huidige termyn steeds ondersteuning gegee waar nodig met die historiese kennis en kontakte tot my beskikking.
• Ek was deel van die span wat jarelange onderhandelinge gevoer het om die bewoning en gepaardgaande onwettige aktiwiteite in die Oranjelaan-bos te beëindig op 'n wyse wat vir alle betrokkenes aanvaarbaar was.
• In 2025 was ek in die span wat die tegniese voorbereiding en deeglike navorsing gedoen het oor inwoners se behoefte aan ’n spesiale aanslag-area in Worcester-Wes. Hierdie werk sal net voortgaan indien en soos inwoners se behoeftes ontwikkel.
• Hoewel dit nie direk op ons wyk van toepassing is nie, dien ek in my kinders se skoolbeheerliggaam waar ons die bestuur van openbare fondse volgens die toepaslike wetgewing en met erns en verantwoordelikheid oorsien. As ondervoorsitter is ek spesifiek werksaam in die finansies-, dissipline- en grond-en-geboue-komitees.
Ek het van jongs af 'n natuurlike belangstelling en uitgebreide kennis van nasionale en plaaslike regering. Ek verstaan terdeë dat dit 'n begrip van ingewikkelde munisipale wette en sisteme, energie, moed, persoonlike motivering en standvastigheid kos om alle belastingbetalers in jou gemeenskap regverdig en met dieselfde ywer te dien. Maar ek geniet dit om so betrokke te wees en sien uit daarna om 'n positiewe bydrae te lewer tot die bestuur van ons wyk en dorp.




In die vorige munisipale verkiesing het net sowat tweederdes van geregistreerde kiesers kom stem.
Wyk 15 is 'n DA-wyk wat werk. Ons het jóú kruisie nodig om dit so te hou.
Gebruik jou kans om jou stem te laat hoor. Sien jou 4 November!
Hoekom DA?
Ek staan namens die DA, want hulle is die doen-party, soos ek 'n doen-mens is. Die DA is die enigste party wat die afgelope 20 jaar kon bewys dat dit moontlik is om met ’n positiewe ingesteldheid op te daag, openbare fondse met verantwoordbaarheid te bestuur én op groot skaal te bou aan lewendige gemeenskappe wat mense insluit, nie uitsluit nie.
Oral in die land werk munisipaliteite met komplekse uitdagings wat geen party kan wegwens nie. MAAR ERVARING MAAK SAAK. Die land se DA-regerings is die beste bewys dat hulle die regte kombinasie van verantwoordbaarheid, doen-ingesteldheid en beproefde ervaring gebou het om ons gemeenskappe te laat werk. Ek is ’n praktiese mens en kies om my moue op te rol saam met ’n span wat reeds bewys het hulle kán.
Ek hoop ek het enige moontlike vrae beantwoord oor wie jou wykskandidaat is en waarom jy met gemoedsrus vir my as DA-raadslid kan stem. Kontak my asseblief te enige tyd as jy verder wil gesels.
Ons wyk is ’n gemeenskap wat wérk. Ons hou dit graag so.